Music & News The Latest Read

21 VIREWIG, Sharoney se Nuutste Enkelsnit

Die talentvolle ster, met haar borrelende verhoogpersoonliheid en onblusbare energie, SHARONEY, is terug met die eerste enkelsnit en musiekvideo vanaf haar komende album wat beslis op elke musiekspeellys gaan koning kraai.

 21 VIR EWIG spog met ’n splinternuwe volwasse klank en is ’n unieke Pop-nommertjie, wat hemelsbreed verskil van dít waaraan aanhangers gewoond is. “Hierdie snit val lekker op die oor en is ’n saamsingtreffer, wat jou voete sal laat jeuk om te dans. Dit is daardie tipe liedjie wat jy orals sal wil luister – in jou motor, by partytjies, om die braaivleisvuur en selfs by die gym en dit gaan verseker maak dat jy vir ewig 21 gaan wil bly,” gesels sy oor dié langverwagte vrystelling.

 Dié liedjie, uit die pen van Douvoordag se Jattie de Beer, het ’n baie positiewe boodskap en gaan daaroor dat die menslike gees nooit werklik verouder nie. Dat jy spontaan moet leef en die beste moet maak van elke oomblik, want op die ou einde van die dag is jy net so oud soos wat jy voel.

“Ek onthou my een-en-twintigste so goed soos gister, want ek bestempel dit as die ouderdom waarop jy regtig ’n volwassene word. Dan is jy jonk genoeg om dié tyd van jou lewe te geniet, maar oud genoeg om die herinneringe vir altyd te koester. Soms wens ek dat ek net vir ’n dag die horlosie kon terugdraai om weer so te voel. Toe ek 21 VIR EWIG vir die eerste keer hoor, het ek net geweet dit moet deel wees van my volgende album, want die tema is van toepassing op elkeen van ons… jonk en oud,” deel SHARONEY wat baie opgewonde is om haar nuwe musiek met die wêreld te deel.

Blue Monkey het die geleentheid gehad om met die pragtige en talentvolle SHARONEY te kan gesels. Die doel was om meer te leer oor haar nuutste enkelsnit.

“21 VIREWIG spog met ’n splinternuwe volwasse klank”… So die liedjie is selfs iets nuuts vir jou? Hoe verskil dit van jou ander musiek en hoe was jou aanvaarding tydens die skryf en opname? Kon jy maklik aanpas?

“Die liedjie is beslis iets nuuts vir my ook, met die beplanning van die nuwe enkelsnit het ek geweet dat Sharoney se musiek ‘n bietjie nuwe verf nodig het. Ek het op die internet gaan luister na talle musiek om die klank waarna ek opsoek was te vind, sodat ek vir die skryfspan kon verduidelk waarna ek opsoek is. Jattie de Beer wat die skrywer van 21 Vir Ewig is het vir my die ‘’demo’’ van die liedjie aangestuur en ek kon sommer by die inleading van die liedjies aanklank vin den sommer dadelik opgewonde geraak oor die nuwe enkelsnit. Die liedjie pas soos ‘n handskoen en ek het so gemaklik gevoel tydens die opnames, dit was so lekker om my eie stempel op die liedjie te kon afdruk.”

21, die ouderdom waar jy nie meer n kind is, maar ook nog nie n volwasse. Die jaar waar n persoon 21 word is soms vol crazy memories! Hoe was jou 21ste jaar? Het daar iets groots gebeur in daardie jaar wat jy nooit sal vergeet?

“Die jaar van my 21ste verjaardag was seker een van die beste herinneringe ooit. Dit was die jaar waar ek vir die heel eerste keer getoer het as kunstenaar, die toer het bestaan uit Ray Dylan, Len Muller en myself. Dit was baie kilometers, min slap, lekker kuier oomblikke. 3 Weke op die pad in ‘n bus. Dit het gevoel of ek op elke dorp ‘n 21ste partytjie gehad het. Ek het op elke dorp verjaarsdag gevier en toe ek by die huis aankom na die toer was daar ‘n partytjie met dekor, ‘n tema en hartsmense gereël om saaam my fees te vier vir my 21ste. Ek sou dit nie anders wou hê nie”

Soos genoem, die ouderdom van 21 is crazy! Ongelukkig is dit ook n stresvolle jaar vir meeste jong mense. Die stress van wat gaan jy doen met jou lewe? Gaan jy n sukses maak van als? Die ouderdom van 21 laat ons baie dink oor ons toekoms. Wat advies sal jy gee aan n person van 21 wat stres oor sy toekoms?

“Die ouderdom 21 los jou met baie leë gedagtes, twyfel, verwaring en soms raak jy benoud oor wat jou toekoms inhou, my raak aan elke 21jarige. Haal asem! Alles sal uitwerk soos dit moet, dit beteken nie jy kan terugsit en ontspan nie. Jy moet nogsteeds hard werk as jy jou droom wil bereik. Maar die lewe in lank reeds voorbereid vir jou. Maak goeie keuses, wees verantwoordelik en pas jou hart op. Terselfde tyd, geniet 21 wees want dit gaan blits vining verby.”

Terug op die musiek… 21 Virewig is n opvolg van Crush, beplan jy nog n opvolg weer, die keer op 21 Virewig? Mik jy om jou lewens pad met ons te deel deur jou musiek videos?

“Daar is nog baie musiek en nuwe material op pad. Ek beplan groot dinge en sien uit om dit met my ondersteuners en die res van Suid Afrika te deel. Ek deel graag glimse van my persoonlike lewe in my musiek videos, op sosiale media e nook op die verhoog deel ek stukkies van my hart… Dis nog lank voor ek die mikrofoon ophang en die gordyne sak.”

Met die vrystelling van 21 Virewig lyk jou 2020 alreeds groot! Wat nog beplan jy? Deel met ons as jy wil.

“Ek sien uit na groot dinge, baie vertonings en tonne pret oomblikke deur die loop van 2020. Ek self is nie presies seker waar 2020 my gaan vat nie. Maar ek hoop vir groot en opwindende oomblikke, vol gehore en groot verhoë. My gebed vir 2020 is ook innerlike groei, self liefde en om gelukkig te wees. Musiek is my lewe en kan nie myself enige iets anders sien doen nie. Musiek kies jou!”

Fathom Media, saam met wie sy al ’n hele paar projekte aangepak het, was die kreatiewe brein agter die musiekvideo wat vanoggend om 10h00 eksklusief deur Jacaranda FM aanlyn bekendgestel is.  Die video sal ook vanaand om 20h30 op VIA TV se Klink Soos Naweek vir die eerste keer op die kassie te sien wees. Die video spog met ’n vars, moderne aanslag en wys vir kykers ’n hele nuwe kant van die sangeres. SHARONEY was nog altyd gewillig om nuwe dinge te probeer en ek glo dat hierdie ’n groot tree vorentoe gaan wees vir haar en haar loopbaan. Hierdie is net die begin,” sê Fathom Media se Jay Loots.

Volgens SHARONEY was die doelwit van hierdie video om iets in Afrikaans te doen wat nog nie voorheen gesien is nie. Daarom het hulle besluit op ’n dansmusiekvideo wat voldoen aan internasionale standaarde. “Ons sien nie gereeld Afrikaanse musiekvideos wat maande se oefening, doelgemaakte kledingstukke en choreografie met ander dansers insluit nie, wat hierdie een dus baie uniek maak,” sê Jay.

Park Bench Studio was die perfekte plek om lewe te gee aan hierdie idee en SHARONEY en haar vier dansers kwyt hulle skitterend van hulle taak om die kyker deel te maak van die prettige atmosfeer op die skerm. “Die enigste boodskap wat hierdie musiekvideo inhou, is om die lewe te geniet en volluit te leef. Om nie een oomblik terug te staan nie, kanse te vat en dapper te wees. Alles word natuurlik uitgebeeld met die gebruik van baie helder kleure en teksture,” verduidelik die kunstenaar.

SHARONEY het beslis geen bekendstelling nodig in die Afrikaanse musiekbedryf nie. Oor die afgelope vyf jaar, het sy nie net diep in die harte van musiekliefhebbers kom kruip nie, maar ook twee Ghoema- en Huisgenoot Tempo-benoemde albums en sewe groot radiotreffers uitgereik.

21 VIR EWIG volg op haar vorige gewilde vrystelling, Crush, wat baie goed deur die publiek ontvang is en steeds gereeld oor die radio gehoor kan word. Die musiekvideo het reeds meer as 40 000 trefslae op YouTube gehad en is baie gewild onder die jongklomp.

Crush was die derde snit vanaf haar album, Skyn, wat in 2018 benoem is vir ’n Ghoema-toekenning vir Beste Popalbum Deur ’n Vroulike Kunstenaar. Die titelsnit het ook die nommer 1-posisie op Lekker FM se treffersparade beklee. Verder was dit ook verskeie weke onder die top 10 op Bosveldstereo se Afrikaanse Top 20, die kykNET Top 20 en VCR se Baanbrekers. Die musiekvideo kan steeds gereeld op die kassie gesien word.

SHARONEY het in 2014 die musiekwêreld amptelik betree toe haar eerste enkelsnit, Een Keer, wat deur ADAM se Hugo Ludik en Reynardt Hugo geskryf is, binne enkele dae die trefferleer begin klim het en sommer vir lank bo-aan, al wat ’n treffersparade is, gekuier het.

Kort daarna is haar debuutalbum, In Ons Fairytale, vrygestel en dit was ook ’n kitssukses wat aan haar in 2015 twee Ghoema-nominasies (Nuweling van die Jaar en Beste Pop-Album deur ’n Vroulike Kunstenaar), asook ’n benoeming vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning (Nuweling van die Jaar) besorg het. Prinses, haar tweede enkelsnit uit die pen van Hugo Ludik en Reynardt Hugo, was ook baie gewild en het dadelik lugtyd gekry oor die radio en ook op televisie. Die derde en vierde enkelsnitte, Fairytale en Wees My Held, het kort daarna gevolg en haar plek in die harte van Suid-Afrikaners verstewig en voortgebou op die sukses wat sy reeds bereik het.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy baie betrokke by liefdadigheidswerk. Verder is sy ’n gereeld gesig by funksies en feeste regoor die land. Tans is sy hard aan die werk met die opname van haar nuwe album, wat in 2020 vrygestel word, en is sy dankbaar vir elke geleentheid en hoogtepunt in hierdie hoofstuk van haar loopbaan.

Alhoewel 21 VIR EWIG ’n sorgvrye tema en ’n moderne aanslag het, getuig dit ook van hoeveel SHARONEY en haar musiek oor die jare gegroei het en dien dit as die perfekte lusmaker van die nuwe en opwindende rigting waarin haar loopbaan beweeg.

 

Die liedjie is beskikbaar op alle digitale platforms hier:

 

http://itunes.apple.com/album/id1494695147?ls=1&app=itunes

http://itunes.apple.com/album/id/1494695147

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/www.sharoney.co.za

Twitter: @Sharoneymedia

Instagram: @sharoney01

Webblad: www.sharoney.co.za

 

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

Like the content? Take a second to support Blue Monkey on Patreon!

About the author

Guest Contributor

The content that you've just read and enjoyed was written by a guest contributor and Blue Monkey claims no credit for it what so ever.

Add Comment

Click here to post a comment