What's Happening

Huisgenoot stel aanlyn “Jou kind”- reeks vir ouers bekend!

Om ’n ouer te wees is nie aldag maklik nie, en tydens die Covid-19-pandemie en inperking spartel ouers oor die land heen om hul kinders by te staan terwyl hulle terselfdertyd hul werk- en huislewe op koers probeer hou.

Daarom stel Huisgenoot ’n nuwe aanlyn reeks, Jou kind, bekend waarin kenners raad sal deel wat ouers in dié tyd sal help om hul kinders emosioneel te ondersteun.

“Dis uitdagend om in hierdie tyd ’n ma te wees,” sê Huisgenoot se redakteur, Yvonne Beyers. “Ouers worstel met groot uitdagings, maar hul kinders ervaar ook frustrasie, angs en eensaamheid. In ons nuwe reeks aanlyn sessies sal sielkundiges die vaardighede en tegnieke deel waarmee ouers hul kinders emosioneel kan help in ’n tyd waar almal onder druk is.”

Die aanlyn sessies word aangebied deur die voorligtingsielkundige Magdel Pretorius, ’n ma van drie, en die kliniese sielkundige Tanya van de Water, ook ’n ma.

Hulle sal met bekendes soos die aktrises Vicky Davis, Desiré Gardner, Bertha le Roux-Wahl en Rolanda Marais gesels oor die uitdagings van ouerskap en ook praktiese raad met kykers deel.

“As ’n ma ervaar ek die frustrasies van die inperking eerstehands en ook die magteloosheid en skuldgevoelens wat daarmee gepaard gaan. Terselfdertyd gee dit my vir my en my kinders die geleentheid om te groei en te ontwikkel. As ma en sielkundige is ek self deur ’n leerskool. Ons wil graag ouers bemagtig deur die sielkunde van ouerskap verstaanbaar en prakties te maak in hulle daaglikse lewe,” sê Magdel. “Ons gaan die vrae bespreek wat ouers hulself elke dag afvra: hoe hulle in hierdie tyd gewerk moet kry, of hulle kinders oukei is en hoe om frustrasies te hanteer.”

Die onderwerpe wat as deel van die Jou kind-reeks elk afsonderlik met ’n regstreekse uitsending, video-opname en aanlyn groepsessie ontgin word, is as volg:

  1. 10 Junie: Superma? Dit sukkel soms!
  2. 17 Junie: My kind is angstig
  3. 24 Junie: ’n Tiener in die huis
  4. 1 Julie: My kind is eensaam

Besoek Huisgenoot.com vir meer inligting.

Kaartjies is beskikbaar by quicket.co.za

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/huisgenoot/

Instagram: @Huisgenoot.com

Twitter: @huisgenoot

TikTok: @Huisgenoot

About the author

Guest Contributor

The content that you've just read and enjoyed was written by a guest contributor and Blue Monkey claims no credit for it what so ever.

Add Comment

Click here to post a comment