Latest News Trending

Zac Efron as Ted Bundy!

In EXTREMELY WICKED, SHOCKINGLY EVIL AND VILE, vertel die Emmy-bekroonde en Oscar-benoemde rolprentregisseur, Joe Berlinger, en draaiboekskrywer, Michael Werwie, die storie van Ted Bundy vanuit sy meisie, Liz Kloepfer, se oogpunt. Sy het vir jare geweier om die waarheid oor sy misdade te glo. Die rolprent spog verder ook met ’n indrukwekkende rolverdeling, wat hartebreker Zac Efron (The Greatest Showman) in die rol van Bundy, Lily Collins (Rules Don’t Apply) as Liz en die bekroonde The Big Bang Theory-ster, Jim Parsons, as staatsaanklaer Larry Simpson insluit – om maar net ’n paar te noem.

Die draaiboek is gebaseer op die boek The Phantom Prince: My Life with Ted Bundy deur Elizabeth Kendall en volg in die voetspore van ’n suksesvolle vierprogram-reeks op Netflix wat Bundy onder die vergrootglas plaas deur middel van eksklusiewe onderhoude met dié krimineel, nadat hy ter dood veroordeel is. “In hierdie weergawe van Bundy se storie, sal die kyker die situasie ervaar soos wat Liz dit gesien het – dat Ted vasgevang was in ’n nagmerrie van slegte toeval… dat hy ’n onskuldige man was wat ’n slagoffer geword het van die regsisteem. Dit het my in staat gestel om weg te beweeg van die normale reeksmoordenaar-genre deur spanning en twyfel te skep en stadigaan die ware weergawe, van wat besig was om te gebeur, weer te gee,” verduidelik Berlinger.

Omdat die prent die tema aanraak van ’n vrou wat in haar kêrel se onskuld glo, het dit ’n emosionele ondertoon waarmee almal kan vereenselwig en jou vir ’n oomblik toelaat om met ander oë na Ted Bundy te kyk. “Deur die storie vanuit Ted se meisie se perspektief te benader, wys ons hoe ’n skuldige man homself aan die wêreld voorgedoen het en watter impak dit gehad het op diegene wat gedink het dat hulle hom ken,” voeg hy by.

Die talentvolle Zac Efron gee lewe aan dié sluwe karakter op die grootskerm en sê: “Ek het gevoel dat dit my plig is om seker te maak dat hierdie fliek nie vir Ted Bundy en wat hy gedoen het vier nie. Wat ek wel wou bereik was om ’n sielkundige studie weer te gee van wie hy was, want daar lê waarheid daarin.”

Na die bekendstelling van die fliek vroeër vanjaar by die Sundance-rolprentfees, is Efron geprys vir sy knap vertolking van hierdie Amerikaanse reeksmoordenaar, wat erken het dat hy dertig vroue in verskillende state vermoor het. Die akteur moes ook ’n redelike groot transformasie ondergaan vir die rol en 6kg afskud om soos Bundy te lyk. As deel van sy navorsing, het die ster ook met ’n paar mense gesels wat vir Bundy geken het. “Baie van hulle was geskok,” sê hy. “Hulle kon nie glo dat hierdie aangename, intelligente, kalm individu verantwoordelik was vir sulke gruwelike misdade nie. Dit maak hom net nog meer fassinered, omdat hy regtig geliefd was – selfs deur diegene wat saam met hom in die tronk was.” 

EXTREMELY WICKED, SHOCKINGLY EVIL AND VILE se fokus is nie om gewelddadige moordtonele weer te gee nie, maar eerder te delf in die charismatiese kant van Ted Bundy wat hy skaamteloos misbruik het om die vertroue van sy slagoffers, vriende en familie te wen. Wanneer hy uitgevang word, word sy meisie se perfekte gesinslewe verpletter soos wat die bewyse ophoop en sy besef dat sy hom nooit regtig geken het nie.

Lily Collins, wat die rol van Liz speel, smoor gerugte dat die fliek probeer om Bundy se verhaal te romantiseer in die kiem wanneer sy erken dat sy gesukkel het om in karakter te kom vir die rol. “Ek het eintlik nagmerries gehad tydens die voorbereiding vir hierdie rolprent,” deel sy.

“Vir my was vir dit belangrik om met fliekgangers te deel dat diegene wat kwaad doen dikwels gewone mense is. Dit is presies wat Bundy ook aan die einde van die fliek sê: ‘Moordenaars kom nie uit donker hoekies, met kwylende bekke nie. Mense besef nie eers dat daar misdadigers tussen hulle is nie. Die mense wat jy elke dag sien, en selfs liefhet, kan die wreedste monsters wees waaraan jy ooit kan dink.’ Ek dink dat dit die ware definisie en natuur van boosheid beklemtoon – iets wat moeilik is om te verduidelik en dikwels baie banaal en teenstrydig is,”  sluit Berlinger af.

EXTREMELY WICKED, SHOCKINGLY EVIL AND VILE word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 3 Mei 2019.

About the author

Guest Contributor

Add Comment

Click here to post a comment

Download Issue 4

Download Issue 3

Download Issue 2

Subscribe to Blue Monkey

Enter your email address to subscribe to Blue Monkey

What you’ve missed